Tuesday, November 25, 2008

Visvurke gedek vir gnocchi

As jy tot sesuur in die oggend kuier dan wéét jy dit was lekker. Dwarsdeur die volgende dag. Dit is nou 2 uit 2 vir Dalene en ek. As mens by haar gaan eet, dan verwag 'n mens om lank te kuier. Maar jy dink definitief nog nie aan ontbyt nie; jy beplan nie om tot sesuur te bly nie.

Ek wil vertel van die magic wat gebeur by sulke kuiers. Dit is meer as net kos, of lekker wyn, of lekker gesels oor die etenstafel. Dit is selfs meer as net 'n viering van die lewe. Dit is die viering van individue se uniekheid, se glorious footprints in die wêreld.

So, gisteraand was ons ses. Ek het kos gemaak - 'n ou favourite comfort-dis van my - gnocchi in bloukaas met roast tamaties, mushrooms, uie en baie knoffel. Dit was 'n hit! Die ander vyf aan tafel kon nie uitgepraat raak of ophou vrae vra oor hoe presies ek dit gemaak het nie. 'Die babatamaties lyk so mooi in die roosterpan.' 'Ek kan nie glo jy het die gnocchi self gemaak nie.' 'Die bloukaas-chive-sous werk so goed saam met die groente.' Aan en aan.

Hulle het my uniekheid gevier: deur te praat oor my kos; deur dit te eet; deur vrae te vra; deur na die tyd die blousous met vingers op te vee. En Dalene se touch: om die tafel te dek in rooi, met visvurke vir die gnocchi. So, nog voor die kos uitgekom het was die mense reg om dié kos met 'n vars blik te benader.

En natuurlik het ons dit ook gevier: Dalene se uniekheid met die vurke - die feit dat sy beautiful ou visvurke 'n tweede kans gee op haar tafel.

Oor en weer gaan die gesprek. Dit is vol grappe en kwinkslae: soos oor Nico se familie wat net té is partykeer; en oor interessante karakters wat Vir Dalene wil huis toe vat.

Maar die stories en grappe wentel aanhoudend terug na iemand aan tafel - en dié se magic.

En saam met dit die kos.
En saam met dit die wyn.
En saam met dit die koninkryk van die lewe.

Na Dalene se tuisgemaakte aarbeiroomys (Johann sê hy sal settle daarvoor as hy seksueel gefrustreerd is) gaan almal huis toe want Sondae is eintlik skoolaande. Ek bly. En ons cover alles. Dalene vra die heeltyd uit: 'Vertel weer die storie van Sandy Bay.' 'Wat gebeur nou volgende met jou kinderstories?' Sy deel lof uit oor al hierdie dinge van my - en hoe sy kan sien die kreatiewe energie borrel na bo.

Sy wys my haar ringe en verduidelik in detail hoe sy hulle maak. Elkeen het 'n storie.

'Nog tee? Kom ons sit lemon geranium by.'

Ons gesels oor my familie, die band, my liedjies, my stories; en haar werk, haar ringe, haar familie, kos.

Dit word lig buite. Ek sien dit al vir meer as 'n uur aankom. Die luggie is vars. Die stad stil: net sy liggies vertel van lewe en potensiaal.

Nog 'n laaste koffie. Leftover gnocchi. Nog 'n laaste storie. Nog 'n oomblik van egte waardering.

Sesuur. My oë val toe op pad huis toe. Die dag het nog baie ure. Maar my siel, my siel. My siel het gerus.

1 comment:

Unknown said...

Dis mos hoe mens moet kuier! En elke goeie kuier, moet ook pitkos vir die siel wees.