Saturday, November 22, 2008

Die chemie van hoop

Ek verstaan nie die chemie agter hoop nie. Hoe is dit dat my brein kan glo in 'n onseker toekoms as die onlangse verlede heel hopeloos lyk?

Miskien is dit net my medikasie; ek kan nie eers onthou wat die wit pilletjie veronderstel is om te doen nie, maar ek het weer hoop. Vir 'n lang tyd - meer as 'n jaar - was my toekoms beperk tot die volgende dag. My beplanning het 'n week vooruit gegaan. Ja, daar was 'n mate van hoop - of ten minste, ek het vertrou dat 'n volgende dag beteken dat die vorige dag verby is. Happy thoughts.

Ek weet ook nie of hoop te doen het met hoe ek myself sien nie. Miskien, as ek glo in my eie potensiaal, kan ek hoop. Bietjie oppervlakkig.

Ek dink tog hoop is geskryf in ons lywe. Dis 'n geloof in menslikheid, medemenslikheid, die genade van genesing en vergifnis, die natuurlike proses van vernuwing - weg met dooie selle en in met nuwes - die oomblikke van waardering vir iets groter as myself.

Miskien is dit nie chemie nie; miskien is dit 'n byproduk van die onbreekbare spirit wat God vir ons gegee het. Wat ookal my neurone laat vuur sodat ek kan glo in more, ek hoop my neurone bly brand.

No comments: